Voertuigligte
- Skakel jou hoofligte te alle tye aan tussen sonsondergang en sonsopkoms.
- Ry met jou hoofligte gedomp wanneer die sigbaarheid 150 meter of minder is.
- Ry slegs buite beboude gebiede met jou hoofligte op helder.
- Skakel die helder ligte af wanneer daar aankomende voertuie is.
Motorfietse
Jy mag geen motorfiets op ’n openbare pad bedryf nie, tensy alle lampe wat aan sodanige motorfiets aangebring is, onbeskadig, behoorlik vasgemaak en te alle tye in staat is om te brand.
Wanneer jy ’n motorfiets op ’n openbare pad ry, moet die hooflig te alle tye brand (snags en bedags).
Ligte en swaar voertuie
Wanneer jy enige ligte of swaar motorvoertuig op ’n openbare pad gebruik, moet alle lampe onbeskadig, onbelemmerd, behoorlik vasgemaak en te alle tye in staat wees om te brand.
Die hoofligte, agterligte en nommerplaatligte moet brand gedurende die tydperk:
- Tussen sonsondergang en sonsopkoms, en
- Op enige ander tyd wanneer persone en voertuie op die openbare pad, weens onvoldoende lig of ongunstige weerstoestande, nie duidelik waarneembaar is op ’n afstand van 150 meter nie.
Met dien verstande dat hierdie bepalings nie geld vir ’n motorvoertuig wat geparkeer is nie:
- Weg van die ryweg van ’n openbare pad,
- In ’n parkeerplek wat deur ’n toepaslike padverkeersteken afgebaken is, of
- Binne ’n afstand van 12 meter van ’n brandende straatlamp wat die pad verlig waarop sodanige voertuig geparkeer is.
Hoofstraal (helder)
Elke hooflig wat ’n hoofstraal (helder) afgee, moet so verstel en onderhou word dat dit ’n gebied voor die motorvoertuig voldoende kan verlig.
Dit stel die bestuurder/ryer dus in staat om enige persoon, voertuig of beduidende voorwerp op ’n afstand van ten minste 100 meter te sien.
Onthou om die hoofstraal (helder) van jou voertuig te domp vir aankomende verkeer, sowel as wanneer jy agter ’n ander voertuig ry.
Gedompte straal
Elke hooflig wat ’n gedompte straal afgee, moet so verstel en onderhou word dat dit ’n gebied voor die motorvoertuig voldoende kan verlig.
Dit stel die bestuurder/ryer dus in staat om enige persoon, voertuig of beduidende voorwerp op ’n afstand van ten minste 45 meter voor die motorvoertuig te sien.
Parkeerligte
’n Voertuig mag nie op ’n openbare pad bestuur word met slegs die parkeerlampe aan terwyl sodanige voertuig in beweging is nie.
Agterligte
Jy mag geen motorfiets of motordriewiel op ’n openbare pad ry nie, tensy sodanige fiets toegerus is met ’n agterlig wat ’n rooi lig na agter afgee.
Jy mag nie ’n ligte motorvoertuig op ’n openbare pad bestuur nie, tensy dit toegerus is met lampe aan die agterkant wat ’n rooi lig na agter afgee.
Jy mag nie ’n swaar motorvoertuig op ’n openbare pad bestuur nie, tensy sodanige motorvoertuig toegerus is met ten minste een lamp aan elke kant aan die agterkant wat ’n rooi lig na agter afgee.
Stoplig
Jy mag nie ’n ligte motorvoertuig of motorfiets op ’n openbare pad bestuur nie, tensy dit toegerus is met stopligte aan die agterkant. Wanneer dit gebruik word, moet hulle ’n rooi lig afgee wat sterker moet wees as die lig wat deur die agterligte afgegee word, en moet dit in normale sonlig sigbaar wees op ’n afstand van 30 meter vir ’n persoon met normale sig.
Niemand mag ’n swaar motorvoertuig op ’n openbare pad bestuur nie, tensy dit toegerus is met ten minste een stoplig aan elke kant aan die agterkant van die motorvoertuig, wat, wanneer dit gebruik word, ’n rooi lig moet afgee waarvan die intensiteit sterker moet wees as dié van die lig wat deur die agterlig op die motorvoertuig afgegee word, en wat in normale sonlig sigbaar moet wees op ’n afstand van nie minder nie as 30 meter vir ’n persoon met normale sig.
Wanneer ’n stoplig brand, dui dit aan dat die voertuig spoed verminder en dalk gaan stop.
Nommerplaatlig
Jy mag nie ’n motorvoertuig op ’n openbare pad bestuur nie, tensy dit toegerus is met ten minste een nommerplaatlig aan die agterkant wat die nommerplaat verlig. Elke letter en syfer van sodanige plaat moet vanaf ’n afstand van 20 meter sigbaar wees vir ’n persoon met normale sig.
Misligte
Voorste misligte / agterste misligte.
Geen voertuig mag op ’n openbare pad bestuur word terwyl enige mislig wat aan sodanige voertuig aangebring is brand nie, behalwe in toestande van swak sigbaarheid veroorsaak deur:
- Sneeu,
- Mis,
- Newel,
- Stof, of
- Rook.
Sieklig (soeklig)
’n Motorvoertuig mag nie op ’n openbare pad gebruik word indien dit toegerus is met ’n soeklig wat so verstel kan word dat ’n ligstraal na aankomende verkeer afgegee word nie.
Met dien verstande dat ’n soeklig wat verstelbaar is —
- aangebring en gebruik mag word vir amptelike doeleindes op enige ambulans, reddingsvoertuig, brandbestrydingsvoertuig, polisievoertuig of verkeersbeheervoertuig,
- aangebring mag word aan ’n voertuig wat aan ’n geneesheer of veearts behoort, en slegs vir professionele pligte gebruik word; of
- aangebring mag word aan ’n insleepvoertuig of ’n voertuig wat gebruik word in verband met die voorsiening van elektrisiteit of ander openbare noodsaaklike dienste.
- Met dien verstande dat dit uitsluitlik gebruik word by die toneel van ’n ongeluk of onklaarheid, of vir die ondersoek van oorhoofse telefoon-, telegraaf- of kraglyne.
Pass